![](https://static.wixstatic.com/media/2d32cd_91bbb6c977814e24af17a119b00bf1a3~mv2.jpg/v1/fill/w_696,h_522,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_avif,quality_auto/2d32cd_91bbb6c977814e24af17a119b00bf1a3~mv2.jpg)
Ken jy die “Onse Vader” gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het? Dit staan in Lukas 11. Kry gou jou Bybel en skryf vers 4 groot op ’n papier neer:
“En vergeef ons ons sondes, want ons vergeef ook elkeen wat teen ons oortree.”
Speel ’n lekker speletjie saam met Erna:
Benodigdhede:
· ’n Rugsak
· Klippe (elkeen omtrent so groot soos
jou vuis)
· Klein papiertjies
· ’n Potlood
Metode:
· Dink aan iemand wat jy moet vergewe vir
iets wat hy/sy gedoen het, en waaroor jy
baie kwaad is.
· Skryf daardie persson se naam op ’n papiertjie neer.
(Kyk na Erna se voorbeeld.)
· Tel nou hoeveel papiertjies jy het met
name op.
· Laai ’n klip in die rugsak vir elke papiertjie wat ’n naam op het.
· Sit nou die rugsak met die klippe op jou rug.
Is die rugsak nou swaar? Jou rug en skouers sal sommer baie seer word as jy ver met die swaar rugsak moet loop. Net so maak ’n mens jou lewe baie “swaar” as jy mense nie kan vergewe nie. Jou hart word bitter en sonder liefde. Later sal jou maats nie meer met jou wil speel nie. Hulle sal sê jy is ’n ou suurknol.
Skeur nou die papiertjies fyn op en vra iemand om die klippe een vir een uit die rugsak op jou rug te haal. Jou lewe sal net soos die sak “ligter” word, want jy het nou vergewe.
GEBED:
Jesus, U sê in U Woord dat ons
70 maal 7 keer moet vergewe,
en as ons vergewe,
sal U ook ons oortredings vergewe. Help my asseblief vandag om
almal te vergewe wat my
in die verlede seer- of kwaad gemaak het.
Amen