DIE SKOK
Wanneer iets baie erg in jou lewe gebeur soos wanneer Pappa en Mamma skei, gebeur daar ’n klomp goed met jou. ’n Mens kan dit vergelyk met ’n gat waarin jy val. Erna het in so ’n gat geval toe haar pa en ma geskei het. Toe hulle vir haar sê dat hulle gaan skei, het sy eers lam gevoel totdat sy besef het wat besig was om te gebeur. Daarna het sy vreeslik ontsteld geword en begin skreeu en huil. Ons sê Erna was geskok.
Onthou:
Dit is nie JOU skuld dat hulle skei nie en hulle sal altyd lief wees vir jou!
Skok is soos skrik. Het jy al gevoel hoe maak jou hart wanneer jy groot skrik? Dit klop mos sommer baie vinnig. As jou hart so vinning klop, loop die bloed vinnig deur jou liggaam en kan jy partykeer dinge doen wat jy gewoonlik nie sal regkry nie. Dit is die Here se manier om jou te beskerm – wanneer groot diere skrik, gebeur dieselfde met hulle en dan kan hulle baie vinnig weghardloop van die gevaar af. Ons kan nie weghardloop van egskeiding af nie, maar die Here gee ons krag om deur die hartseer te kom.
Dit was vir Erna baie seer toe sy in die gat trap en val, maar sy het geleer dat sy weer kan opstaan. In hul huis was dit nou moeilik vir almal, maar dis nie die einde van Erna se lewe nie. Hulle is nog steeds ’n familie. Sy hoef nie te kies tussen haar pa en ma nie, want sy het altwee ewe lief.
Jy kan Psalm 27:10 soos volg lees: “Al sou my pappa of mamma my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.”