top of page

Pappa & Mamma skei: 

Deur Jeanette Oberholster

Depressie, aanvaarding & herbou

Erna wil nou met Jesus ONDERHANDEL. Hierdie lang woord beteken dieselfde as “uitruil”. Byvoorbeeld: As jou maatjie vir jou drie lekkers gee, sal jy hom op jou fiets laat ry. Erna het gebid en vir Jesus gesê sy sal harder werk op skool en baie soeter wees, as Jesus net asseblief haar pappa en mamma weer bymekaar sal bring. Ongelukkig gebeur dinge nie altyd soos ons dit graag wil hê nie. Onthou, dis nie jou òf God se skuld dat pappa en mamma skei nie. God is baie lief vir jou en sal jou in hierdie moeilike tyd help.
 
Erna lê nou heel onder in die gat. Sy voel nie meer lus om te lewe nie. Sy’s bang en voel baie alleen. Sy slaap sleg, wil nie meer eet nie en huil baie… Voel jy ook soos Erna? Dan het jy DEPRESSIE. Die dokter kan vir jou baie goeie medisyne gee, maar onthou, Jesus is die beste Dokter! Moenie bang wees om vir Jesus te vertel hoe jy voel nie.  
 
Hier is goeie raad vir tye wanneer jy onder in die donker gat sit:
Filippense 4:6 “Moet oor niks besorg (bekommerd) wees nie,
maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
 
Erna besef nou dat sy niks kan doen om haar ouers se egskeiding te keer nie. Sy moet dit AANVAAR. Daar is soveel kinders in haar skool wie se ouers geskei is. Sy wil nie langer in hierdie donker gat wees nie. Sy wil hier uit!
 
HERBOU: Erna het nou Jesus se hand gevat en begin om uit die gat te klim. Dis nie maklik nie. Sy word moeg en partykeer gly sy terug. Party dae het Erna maar net een tree geklim, Op sulke dae kyk sy terug en sien hoe ver Jesus haar al gehelp het. Sy’s sommer baie trots op haarself en sê elke dag vir Jesus dankie. Al neem dit lank, sál Erna bo uitkom.

Filippense 4:13 sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom
wat my krag gee.”
Jy kán uit die gat klim, as jy dit saam met Jesus doen!

© 2023 by SKATKIS. Proudly created with Wix.com

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • Google+ Social Icon
bottom of page