![](https://static.wixstatic.com/media/2d32cd_91bbb6c977814e24af17a119b00bf1a3~mv2.jpg/v1/fill/w_696,h_522,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_avif,quality_auto/2d32cd_91bbb6c977814e24af17a119b00bf1a3~mv2.jpg)
Vandag vertel ons julle nie van een van ons jong lesers nie, maar van ’n oom wat ’n wonderlike ondervinding gehad het. Oom Johan is al van lankal af ’n Christen, maar hy het altyd gevoel dat hy nie genoeg doen vir die Here nie. Toe hy twee jaar gelede aftree, het hy vir sy predikant gevra of daar iets is wat hy vir die kerk kan doen. Toe sê sy dominee hy moet asseblief vir die gevangenes in die tronk gaan vertel van Jesus.
Oom Johan vertel self:
Ek was nie baie lus vir dié werk nie! Ek het nog nooit gehou van skelms en rowers en moordenaars nie, en sê nou net hulle lag my uit as ek met my Bybel daar aankom! Ek kon buitendien nie goed met mense oor hulle geloof praat nie.
Die hoof van die gevangenis het my gevra om met die jongmense te gesels wat verhoorafwagtend is. Dis maar net ’n lang woord wat beteken dat die jongmense gevang is omdat die polisie dink hulle het ’n misdaad gepleeg, en nou word hulle in die gevangenis aangehou tot dat hulle in die hof aangekla word. Hulle word net soos die ander gevangenes behandel. Daar is meer as 200 jong mans in daardie deel van die tronk. Die kos is nie baie lekker nie, en die beddens waarop hulle slaap is maar hard. Sommige van hulle wag langer as ’n jaar om in die hof te verskyn. Partykeer weet hulle families nie eens waar is hulle nie.
My broek het behoorlik gebewe toe ek in die afdeling instap, want dit het gevoel of almal my skeef aankyk. Toe die bewaarders by die selle gaan vra of iemand wil kom luister, het net vier uitgekom.
Ek het eers gebid en toe vir hulle vertel dat Jesus na die aarde toe gekom het om vir ons sondes te sterf en dat Hy hulle ook met ope arms sou verwelkom as hulle na Hom toe kom. Dit het vir my gevoel of die Heilige Gees die woorde in my mond sit, want ek het nie een keer gesukkel om die regte woorde te kry nie.
Die volgende week toe ek daar aankom, was daar sommer tien van die jong mans wat wou luister! Hulle het elke week meer geword, tot daar vyftig in die groep was. Baie van hulle het kinders van die Here geword. ’n Mens kon sommer sien hoe hulle lewens verander!. Hulle bid nou gereeld saam in die tronkselle, hulle gee om vir mekaar, en die ander jong mans in die gevangenis kan duidelik sien hoe hulle lewens verander het.
Kersfees het my gemeente seep en tandepasta en goetertjies bymekaar gemaak vir al die jong gevangenes. My Bybelstudie-groepie het gehelp om alles mooi in geskenkpapier toe te draai en onder hulle uit te deel.
Julle moes dit sien! Party van die jong mans wat altyd gemaak het of hulle so sterk en kwaai is, het gehuil toe hulle die pakkies kry, want baie van hulle het nog nooit tevore in hulle lewe ’n geskenkie ontvang nie.
Niemand kyk my meer skeef aan as ek daar aankom nie. My Bybelstudieklas is altyd bly om my te sien.
Ek is vir die eerste keer in my lewe regtig gelukkig, want ek sien hoe Jesus mense se lewens verander