

Dink net hoe erg sou dit gewees het as jy nie kon lekker praat nie. Jy sou nie kon gesels met jou
vriende, grappies maak of sing nie. Dit is hoekom ‘n spraakterapeut se werk so belangrik is. As jy
eendag besluit om ‘n spraakterapeut te word, sal jy mense kan help wat hakkel, lispel* of bry**.
*Lispel: Dit gebeur wanneer jy jou tong tussen jou tande laat deurglip wanneer jy
“s” sê.
**Bry: Dit gebeur wanneer ‘n mens die “r” met jou kleintongetjie sê en nie jou tong
laat tril nie.
Jy sal ook mense kan help wat sukkel om te lees en spel, of probleme het om te leer.
Omdat mense van alle ouderdomme sulke probleme kan hê, moet spraakterapeute verskillende maniere gebruik om elke persoon se probleem op te los. Speelgoed, inkleurboeke en storieboeke is van die maniere hoe spraakterapeute klein kinders help met spraak- en taalprobleme. Spraakterapeute werk ook met die kind se ma en pa om seker te maak dat hulle by die huis ook die kind met sy probleem kan help.
Ouer mense met probleme kry hulp op ‘n ander manier as kinders, en spraakterapeute help hulle deur terapie en spesiale rekenaarprogramme.
Om ‘n spraakterapeut te wees, is ‘n baie belonende beroep, maar jy sal moet geduldig wees met die mense wat jy help en ook baie ondersteunend.
· Daar is net ‘n sekere aantal mense wat gekeur word vir spraakterapie. Soos byvoorbeeld, by die Universiteit van Pretoria kies hulle net 45 mense elke jaar, so maak seker jy kry goeie punte in Graad 11!
· Daar is nie op die oomblik spesifieke vakke wat jy nodig het in matriek om ‘n spraakterapeut te word nie, maar dit sal baie help as jy wel Wiskunde, Wetenskap en Biologie het.
· Jy gaan vir 4 jaar by een van die Universiteite moet studeer wat spraakterapie aanbied.
· Nadat jy jou graad gekry het, moet jy vir een jaar gemeenskapsdiens doen in Suid Afrika.
· Daar is baie plekke waar ‘n spraakterapeut kan werk, soos skole, ouetehuise, klinieke, hospitale en selfs by oor-, neus- en keeldokters