top of page

Sê   Dankie

Deur Susan Botha

Het jy al aan iets gedink wat jy vreeslik graag wou hê? Toe op ‘n dag kry jy dit… Hoe het jy gevoel? Was jy bly en opgewonde? Jy was seker ook baie dankbaar en het (ek hoop!) dadelik gaan dankie sê vir dié wonderlike geskenk.

Hierdie keer was dit maklik om dankbaar te wees, né? Dit was presies soos jy dit wou gehad het, maar soms gebeur dit anders. Jy verwag ’n groot geskenk en dan gebeur dit nie. Pappa en Mamma het dalk nie baie geld nie en kan net ’n klein geskenkie vir jou koop. Hoe voel jy dan? Nog steeds bly en opgewonde? Hardloop jy nog steeds om dankie te gaan sê?

Die Bybel leer ons dat jy dankbaar moet wees vir alles.  In Efesiërs 5:20 staan daar:  “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus.” Dit beteken dat jy ook moet dankbaar wees vir dinge wat op jou pad kom waarvan jy nie hou nie.Dalk het jou hondjie baie siek geword of Pappa het sy werk verloor. Dan kan jy nog steeds dankbaar wees omdat God in Sy Woord sê dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.

Maak 'n Gebedswiel

Benodigdhede

· Twee papierborde

· Skêr

· Prentjies van goed waarvoor jy dankie wil sê (jy kan dit self teken)

· Koper klinknaeltjie

Metode

· Deel die een papierbord op in agt gelyke driehoekie-segmente. (Vra vir pappa of mamma om te help as jy sukkel.)

· Teken / plak in elke segment ’n prentjie van iets waarvoor jy dankbaar is. Bv. God se liefde, gesin, vriende, kos, klere, dat jy kan mooi dinge sien soos blomme, onderwysers wat jou mooi leer, ens.

· Neem die tweede papierbord en knip een segment uit.

· Sit hierdie bord bo-op die een met die prentjies vas met die  klinknaeltjie.

· Spin die boonste deel, en sê dankie vir dít wat die wiel vir jou wys. Doen dit saam met jou gesin of met ’n maatjie

© 2023 by SKATKIS. Proudly created with Wix.com

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • Google+ Social Icon
bottom of page