top of page

Die Here raak my mamma aan!

                                           “Mamma is baie siek. Ek moet ‘n operasie kry wat baie                                                          gevaarlik is. Die dokters weet nie of ek die operasie sal                                                           oorleef nie.”

                                                As ‘n mens skielik moet hoor dat jou ma miskien nie meer                                                    lank sal lewe nie, skrik ‘n mens.  Skielik dink jy aan alles                                                       wat julle al saam gedoen het en alles wat jy nog graag                                                         saam met haar wil doen.  ‘n Mens wonder hoe dit sal wees                                                    as jou ma nie meer daar is om jou soggens wakker te maak nie, as sy nie meer vir jou lekker bederf-kos maak nie, as sy nie meer daar is om jou ‘n stywe druk te gee en vir jou te sê “ek is lief vir jou” nie.  

Joanné Oberholster is 10 jaar oud en baie lief vir haar ma.  Haar ma is al baie lank siek, maar oor tyd het sy al sieker geword.  Uiteindelik het die dag aangebreek dat haar ma vir haar moes sê van die operasie en dat dit regtig ‘n gevaarlike operasie is.   

Joanné was baie bang , veral toe haar ma ‘n klomp vorms moes teken waarin staan dat daar vreeslik baie goed fout kon gaan tydens die operasie.  Omdat die dokters aan haar brein sou opereer, kon iets baie maklik skeefloop  – haar ma kon byvoorbeeld blind of verlam eindig.

Joanné het vir haar ma gebid. Sy het geweet dat net  die Here hulle kon help. Dit was vir haar wonderlik om te weet dat baie ander mense ook vir haar gebid het. Mense van verskillende kerke van baie verskillende dorpe en selfs hul vorige bediende, Nora, en haar gemeente, het gebid. Joanné het geweet dat sy altyd op die Here kan Vertrou.

En toe breek die dag aan dat hulle Kaap toe moes

vlieg vir die operasie.  Dit was die eerste keer dat sy in

‘n Boeing gevlieg het en dit was lekker,maar niks is

regtig lekker as jy begin dink aan die operasie en jou

ma se siekte nie…

By die hospitaal, net voor die operasie, het Joanné

gedink dat dit die laaste keer is dat sy haar ma sou

sien…  Die operasie was ses ure lank.  Sy en haar pa

het buite die teater gewag.  Ses ure is baie lank om te

wonder en te wag en te bid en te hoop.

Maar die Here was getrou.  Hy het al die gebede

verhoor!  Die operasie was ‘n reuse sukses.  Toe

Joanné haar ma weer sien, het sy baie gehuil.  Maar

hierdie keer was dit trane van blydskap.  

Blydskap, omdat Jesus haar mamma vir haar teruggegee het.

Haar ma het gou aangesterk en almal verras omdat sy so gou herstel het.  Die Here was getrou!  Hy verhoor gebede en doen vandag nog wonderwerke.

Wat sê Joanné?

Hoe voel jy oor jou ma?
Ek is baie lief vir haar; ons doen alles saam.

Wat is jul gunsteling uitstappie saam?
Interessante winkeltjies met oulike goedjies.

Waarvoor was jy die bangste?
Dat my ma nie sal lewe na die operasie nie of dat iets groot fout sal gaan.

Hoe was dit om jou ma na die operasie te sien?
Ek het geskrik vir al die verbande, maar ek was baie, baie bly om haar weer te sien.  

Was daar snaakse oomblikke?
Ja, al my ma se hare is afgesny en sy het ‘n mussie gedra. Toe sy my die eerste keer weer by die skool kom haal, het sy ‘n pruik gedra en ek het haar glad nie herken nie!

Wat het jy geleer?
Dat Jesus regtig wonderwerke kan doen.  Wat Hy vir my ma gedoen het, kan Hy ook vir ander mense doen.

© 2023 by SKATKIS. Proudly created with Wix.com

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • Google+ Social Icon
bottom of page