Het iets van die volgende al
met jou gebeur?
Maatjies het al:
· My geklap, geknyp, geskop of selfs gespoeg
· My lelike name genoem
· Jokstories (of miskien ware stories) vir juffrou, prefekte of ander kinders gaan vertel oor my
· Iets van my geleen en dit toe nie teruggee nie
· My nie genooi na ‘n verjaarsdagpartytjie nie
· My gelos vir ‘n ander maat
· My maat afgevat of probeer om my maat af te vat
· Vir my gesê ek word te gou kwaad
· Wil nie vir my kans gee om die baas te wees nie
· Wil nie speel wat ek wil speel nie
· ‘n Geheim van my oorvertel
· Oor my geskinder by ander kinders
· My gespot oor my naam of iets lelik oor my familie gesê
· Vir my gesê hy/sy is beter as ek in sport/skoolwerk
As jy ‘ja’ op een of meer van hierdie stellings geantwoord het, beteken dit dat jy ‘n NORMALE KIND is en
dat daar regtig niks fout is met jou nie.
Van hierdie goed het al met ALLE maats gebeur.
Ander kinders (en miskien jy) moet nog leer hoe om op die regte manier op te tree teenoor mekaar.
Maats verbreek baie kere vriendskappe met mekaar oor redes soos hierbo.
Hoekom is dit belangrik om met maats te speel?
Natuurlik is dit baie lekker, maar daar is ander redes hoekom dit belangrik is om met maats te speel, veral dié wat in jou ouderdomsgroep is.
· Hulle help jou om besig te bly. Dan is jy nie pouses alleen nie en kan jy makliker elke dag geniet.
· Jy leer nuwe speletjies, leer van interessante dinge en lag saam oor grappies.
· Jy leer om jou beurt af te wag gedurende speletjies, en natuurlik om die reëls te gehoorsaam, anders mag jy nie meer saamspeel nie.
· Maats leer ook bymekaar hoe om te stry. Jy leer ook hoe om jouself te verdedig!
· Wanneer kinders van dieselfde geslag met mekaar speel, leer hulle hoe dogters en seuns veronderstel is om op te tree, en watter gedrag verkeerd of lelik is.
· Kinders leer by mekaar hoe om te sê “Ek is jammer, vergewe my asseblief”.
Toe God besluit het daar gaan kinders op hierdie aarde wees, het Hy geweet dat alle kinders nie van mekaar gaan hou nie en dat almal nie met mekaar sal wil speel nie. Hy het ook geweet dat alles in die lewe nie net maklik sal wees nie, en dat party maatjies alleen gaan voel, sukkel om maats te maak en miskien sukkel met huiswerk en skoolwerk.
Het julle geweet toe Jesus op aarde was het hy BAIE mense geken,
en baie mense het Hom geken, MAAR hy het net ‘n paar vriende gehad.
Weet jy hoe was Jesus teenoor ander mense? Hy was altyd vriendelik,
Hy het gehelp as hulle probleme het, Hy was nederig en het hulle vergewe.
Weet jy wat het een van Jesus se vriende gedoen toe die soldate Hom
gevange geneem het? Ja, Petrus het die soldaat se oor af gekap en
gewys dat hy lojaal is. Tog het hy later gemaak asof hy nie vir Jesus
ken nie (lees Johannes 18). Jesus is so wonderlik, Hy het Petrus nie
verwyt nie, maar dadelik vergewe.
Jesus se ander vriend, Johannes, het tot die einde by Jesus gestaan en selfs vir Jesus se ma gesorg nadat Hy opgevaar het hemel toe (Lees Johannes 19:17-27).
As Jesus jou maat was, watter tipe maat sou jy vir Hom gewees het? Sou jy vriendelik met Hom gewees het, goeie goed gedoen het en hulpvaardig gewees het? Wel, Jesus vra dat ons elke maat mooi moet hanteer soos ons Hom sou hanteer.
JESUS
Ons Voorbeeld
Hy wil hê dat ons elke dag met Hom moet praat wanneer ons sukkel.
Hy wil ook hê dat as ons sukkel om maats te maak,
ons vir Hom sal vra om te help.