top of page

Vlieg die wêreld vol!

Ons noem hulle sommer lugwaardinne. Maar dis nie slegs vrouens wat dié werk doen nie, mans word ook in diens geneem om na passasiers van vliegtuie om te sien. Hulle word vlugkelners genoem.

 

Hulle is hoofsaaklik veiligheidsbeamptes wat passasiers moet help in noodgevalle. Verder moet hulle ook seker maak dat al die passasiers gemaklik is tydens die vlug. Mense van verskillende lande vlieg op jou land se vliegtuig, en daarom is dit belangrik dat jy ’n goeie ambassadeur vir die lugredery (die maatskappy aan wie die vliegtuie behoort) en die land sal wees wat jy verteenwoordig. (’n Ambassadeur is iemand wat sy land / maatskappy ‘adverteer’ – as jy nors en moeilik is, sal mense dink almal van jou land is so, maar as jy vriendelik en behulpsaam is, dink mense jou land se mense is oulik.)

 

Vereistes

 

Vir Suid-Afrikaanse lugrederye moet jy ’n Suid-Afrikaner wees en tussen 20 en 40 jaar oud. Jy moet minstens 1.6m lank wees. (Jammer, as jy korter is, sal jy nie alles kan bykom nie.)

 

Jy moet verkieslik graad 12 geslaag het en goed Afrikaans en Engels kan praat. Indien jy graag na ander lande wil vlieg, sal dit goed wees as jy ander tale kan praat, byvoorbeeld Frans of Duits.

Opleiding

 

Jy sal begin deur veiligheids- en noodprosedures te leer (soos om ’n vliegtuig wat vol mense is, te ontruim), asook eerstehulp en lugvaartmedikasie. Jy sal ook leer van internasionale reisvereistes, besprekings, pligte van grondpersoneel, spyseniering, grimering en die fyner kunsies van omsien na passasiers.

© 2023 by SKATKIS. Proudly created with Wix.com

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • Google+ Social Icon
bottom of page