![](https://static.wixstatic.com/media/2d32cd_91bbb6c977814e24af17a119b00bf1a3~mv2.jpg/v1/fill/w_696,h_522,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_avif,quality_auto/2d32cd_91bbb6c977814e24af17a119b00bf1a3~mv2.jpg)
Beertjies met hul eie stories
Daar is selfs beertjies ontvang van kinders wat self al kanker gehad het en genees is. Hulle wou graag die beertjies wat die swaarkrypad saam met hulle gestap het, gee vir iemand wat nou ook daardie pad moet stap.
Klein beertjies, groot bere en yslike bere! Duisende van hulle! Raai, raai waar is ek nou? Nee, nie by ’n speelgoedfabriek of ’n speelgoedwinkel nie. Ek is by Hanco en Morné Viljoen se huis. Hierdie is twee jong seuns wat kans sien vir baie – meer as waarvoor baie grootmense kans sien!
Hulle het besluit om 100 000 beertjies in te samel om vir kinders met kanker te gee. Honderdduisend is baie: as jy in ’n groot skool is, is daar dalk so eenduisend leerlinge in jou skool. Sit nou ’n honderd sulke skole se leerlinge bymekaar, dan kom jy by honderdduisend uit!
Waarom beertjies vir kankerlyers?
Hanco het self kanker. Die dokters het dit in 2005 ontdek.
Sederdien het hy chemobehandeling ontvang, waarop
hy goed gereageer het. Dit laat ’n mens egter baie sleg
voel en het veroorsaak dat al sy hare uitgeval het.
Hanco het in dié tyd ervaar dat dit lekker is om ’n
teddie styf vas te hou. Hy en sy gesin het besluit dat
hulle graag iets vir ander wou beteken – hulle wou graag
vir ander kinders met kanker ook ’n sagte speelding gee
om hulle te troos. Die beertjie-projek help vir Hanco om
te dink aan iets anders as sy eie probleme.
[Belangrike wenk: as jy probleme het, kyk hoe jy ander
mense kan help, dan lyk jou eie probleme kleiner en voel
jy sommer stukke beter!]
Hoe begin ’n mens met so ’n groot projek?
Pa Hendrik en Ma Marinda het gehelp. ’n Webtuiste is geskep, hulle het ’n e-pos geskryf waarin hulle verduidelik wat hulle wil doen en dit aan verskeie mense gestuur. Gou het die nuus soos ’n veldbrand versprei en is daar artikels in koerante en tydskrifte geplaas, hul storie was oor die radio en selfs op televisie. Mense van oral het gehoor van die projek en almal het ywerig beertjies bymekaar gemaak en gaan aflewer by die Viljoens se huis.
Gou het die sit- en eetkamer verander in ’n pakplek vir beertjies. Later moes hulle spesiaal ’n plek huur om die beertjies te stoor totdat dit uitgedeel word. Teen middel April het hulle sowat 30 000 beertjies ontvang! Net om die beertjies te tel, was al ’n reuse taak! Teen Augustus het hulle die 100 000 merk verbygesteek! Iets wat heeltemal onmoontlik geklink het, het gebeur!
![](https://static.wixstatic.com/media/2d32cd_10fdd4563bc841ad8209238cec84f3e3~mv2_d_2048_3072_s_2.jpg/v1/fill/w_267,h_401,al_c,q_80,usm_0.66_1.00_0.01,enc_avif,quality_auto/2d32cd_10fdd4563bc841ad8209238cec84f3e3~mv2_d_2048_3072_s_2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/cb769d38dd873a7ad5efd6a33957356b.png/v1/fill/w_200,h_136,al_c,q_85,enc_avif,quality_auto/cb769d38dd873a7ad5efd6a33957356b.png)
Dit en dat oor Hanco:
Gunstelingsport: tennis
Gunsteling rugbyspan: blou bulle
Musiek: Wye verskeidenheid, veral Afrikaanse musiek
Gunstelingkos: hoender en pasta (die chemo maak dat hy nie meer skaaptjoppies, roomys en sjokolade kan geniet nie)
Droom: Hanco wil graag eendag ’n argitek word
Hanco se gesondheid
Hanco se behandeling is iets van die verlede. Hy het sy laaste chemo-behandeling op 6 Mei ontvang. Bestraling is as voorsorgmaatreël gedoen en dit het op 4 Augustus geëindig. Toetse het bevestig dat hy weer “skoon” is (sonder kanker). Die Here was getrou.
Hanco is sedert 1 Junie weer skool toe waar hy met ope arms verwelkom is. Hy geniet elke oomblik van skool, en sit boonop weer met ’n welige bos hare!
![](https://static.wixstatic.com/media/2d32cd_8518d1e512634ad487d59155234db31c~mv2_d_3072_2048_s_2.jpg/v1/crop/x_456,y_236,w_2028,h_1812/fill/w_396,h_354,al_c,q_80,usm_0.66_1.00_0.01,enc_avif,quality_auto/2d32cd_8518d1e512634ad487d59155234db31c~mv2_d_3072_2048_s_2.jpg)
WAT IS HANCO EN MORNÉ SE BOODSKAP VIR JOU VANDAG?
DEUT 31:8 “DIE HERE SAL VOOR JOU UIT GAAN. HY SAL BY JOU WEES. HY SAL JOU NIE IN DIE STEEK LAAT NIE, JOU NIE ALLEEN LAAT NIE. MOENIE BANG WEES NIE, MOENIE SKRIK NIE.”
DINK ’N BIETJIE: WAT KAN JY DOEN OM ’N VERSKIL TE MAAK...