Die sagste pels en die kostelikste lang ore maak dat ’n snoesige konyntjie ’n gewilde troeteldiertjie is. ’n Mens is sommer lus om die wollerige bondeltjie op te tel en te vertroetel! Maar sjoe, konyntjies kan sorg vir groot pret!
Toe Skatkis ’n fotosessie met konyntjies gereël het, het ons nie besef hoe rats ’n mens moet wees om hulle af te neem nie! Die bolletjies wol het die hele tuin vol gewip en ons moes bontstaan om hulle afgeneem te kry!
Konyne hou daarvan om in gate te woon en sommer in groot klompe bymekaar. Hulle teel verskriklik vinnig aan. Hulle kry tussen vyf en tien kleintjies so elke ses tot sewe weke. Ná agt maande is die kleintjies al weer groot genoeg om self aan te teel.
As jy besluit om ’n konyntjie of twee aan te hou, moet jy eerstens sorg dat hulle ’n goeie hok het. As die hok buite geplaas word, moet dit genoeg skadu hê, want hulle is baie gevoelig vir sonsteek. Omdat hulle tonnels kan grawe, moet die hok se vloer bedek wees met ’n draad “mesh”, anders kan hulle onderdeur die hok grawe en so ontsnap. As ’n mannetjie en ’n wyfie saam ontsnap, kan dit rampspoedige gevolge hê! In Australië het ’n kampie se heining waarin konyne aangehou is, afgebrand, ’n klompie het vrygekom, en kort voor lank was daar ’n reuse plaag!
Uitgeholde boomstompe of dakteëls wat só gepak is dat ’n afdakkie vorm, is lekker wegkruipplekkies wat ook bitjie beskerming bied. Maak seker dat daar genoeg strooi is sodat hy vir hom ’n nes kan maak, en sorg altyd vir vars water.
Maak seker dat die konyn daagliks uit sy hok gelaat word om vry rond te spring. Dit hou hom gesond en gelukkig, en gee vir jou kans om met hom te speel.
Hasie,
hoekom is jou stert so kort?
Versorg die hare
Vir konyne met kort- en mediumlengte hare, kan jy hulle slegs tydens die herfs en lente uitborsel wanneer hulle nuwe hare kry. As hulle egter binnenshuis aanhou, moet jy hulle weekliks borsel.
Langhaarkonyne soos Angoras moet daagliks gekam word en klosse moet afgeknip word. Hulle behoort so elke drie maande geskeer te word.
Gee vir jou konyn ’n manikuur!
Sodra die naels ondertoe buig, moet dit geknip word. Gebruik ’n spesiale knipper. Vra ’n veearts-assistent of troeteldierwinkel-helper om vir jou te wys hoe.
Gulde reëls vir ’n gelukkige konyntjie:
· Gee kos volgens ’n gereelde skedule: soggens droë kos en saans groen kos en ander vars kos.
· Genoeg hooi en vars water moet altyd beskikbaar wees.
· Gee ’n wye verskeidenheid kos.
· Moenie kos skielik drasties verander nie.
· Moet nooit kos direk uit die yskas of vrieskas gebruik nie. Vermy blikkieskos.
· Moet nooit kos gee wat oud of gemuf is nie.
· Konyne hou daarvan om saggies gekrap te word op die skof van die nek en oor die hele lyf gevryf te word. Hulle hou nie daarvan om onder die ken of oor die maag gekrap te word nie.
· Hou die hok skoon om siektes te voorkom.
· Laat die konyne toe om elke dag bietjie vry rond te hardloop – dan sal hulle gesond en gelukkig wees.