Word 'n filmster
Droom jy ook om eendag op televisie te wees soos Paula of George van Sewende Laan? Dit lyk dalk maklik, maar dit is harde werk om toneel te speel!
Meeste produksies vereis lang ure van repetisies, ongewone ure, en terwyl jy nog onbekend is, sal jy baie min geld verdien. Toneelspeel is ’n baie opwindende beroep en jy sal baie ongewone, onverwagte ervarings beleef. Al meer internasionale maatskappye verfilm tonele in Suid-Afrika omdat ons so ’n pragtige land het, en dit skep nuwe geleenthede vir plaaslike akteurs.
’n Goeie akteur het die vermoë om enige rol oortuigend te kan speel. Marius Weyers is só ’n akteur wat enige rol oortuigend kan speel – die held, die skurk, ’n intelligente man of ’n dom ou.
Dit is baie belangrik dat jy jouself in ’n ander se skoene kan stel en die lewe deur sy oë beskou en deur sy emosies. Jy moet die vermoë hê om tydelik van jou eie emosies en gedagtes te vergeet terwyl jy toneel speel. As jy byvoorbeeld van nature ’n sagte skaam persoon is en jy moet die rol van ’n uitbundige babbelkous speel, moet jy tydelik op die verhoog iemand word wat jy nie is nie. Hierdie talent onderskei gemiddelde akteurs van die groot sterre.
As jy belangstel in toneelspeel, moet jy mense van jongs af fyn bestudeer – hul gesigsuitdrukkings, gebare, lyftaal, manier van praat. Kyk hoe mense verskillende emosies uitdruk. Eendag wil jy dalk in ’n toneel speel waar jy ’n kwaai onderwyser moet uitbeeld. As jy jou kwaai onderwyser fyn bestudeer het, sal dit vir jou makliker wees om dit na te boots.